Die verhaal van Wolraad Woltemade

Die verhaal van Wolraad Woltemade

Wolraad Woltemade is volgens oorlewering in 1708 in Hesse-Schoumberg (in die huidige Duitsland) gebore. As volwassene het hy na die Nederlandse nedersetting aan die suidpunt van Afrika geëmigreer waar hy vir die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie as melkboer gewerk het. Hy en sy vrou, Janna Charlotta, het twee seuns gehad.

Die gebeurtenis wat aan Woltemade heldestatus gegee het, het  in 1773 plaasgevind toe hy en sy perd veertien mense uit die see gered het en in die proses self verdrink het. Vyf van die Oos-Indiese Kompanjie se skepe het in Tafelbaai gelê toe ’n storm hulle oorval. Die ankertoue van een van die skepe, De Jonge Thomas, het gebreek, en die skip is teen die rotse by die Soutriviermonding geslinger. Woltemade se jongste seun, Christian Ludwig, was een van die soldate wat die wrak moes oppas om seker te maak dat die inhoud nie geplunder word nie. Wolraad het die oggend daarheen gegaan om vir sy seun kos te neem en opgemerk dat niemand iets doen om die mense wat besig is om te verdrink, te red nie.

Die 65-jarige Woltemade het onmiddelik sy hemp en jas uitgetrek en die see ingevaar met sy perd, Vonk. Daar is twee weergawes van hoe hy die drenkelinge gered het. Volgens een weergawe het hy dat twee mans op ‘n slag aan Vonk se stert vasgryp sodat hy hul uit die water kon trek. Die tweede weergawe vertel dat hy ‘n tou gegryp het op die strand en die drenkelinge twee-twee aan die tou uit die water getrek het. Hy het sewe keer die stormagtige see ingegaan om nog mense te red van verdrinking. Op die agste keer het ses mense egter uit desperaatheid op die perd gespring wat hom verhoed het om uit die water te beweeg. Vonk en Wolraad het onder die water verdwyn en hul lyke het die volgende dag uitgespoel.

Die Oos-Indiese Kompanjie het ’n skip na Woltemade vernoem om hom te vereer: De Held Woltemade. Die Republiek van Suid-Afrika het ook die ‘Wolraad Woltemade-toekenning’, die hoogste siviele toekenning vir dapperheid in die land, gemaak. ‘n Groot hoeveelheid strate en voorstede in Suid-Afrika, asook een van die kragtigste bergingsleepbote in die wêreld, wat in 1976 gebou is, is na Wolraad Woltemade vernoem.