Kinderheldin: Die dapper verhaal van Racheltjie de Beer

Kinderheldin: Die dapper verhaal van Racheltjie de Beer

Racheltjie is een van die bekendste kinderhelde in Suid-Afrika se geskiedenis en haar verhaal is een van die mees oorvertelde stories. Die storie lui so:

Dit was in die wintermaande van 1843 toe Racheltjie en haar gesin deel was van ‘n trek vanaf die Vrystaat na die Transvaal. Een aand het die Trekgeselskap agtergekom dat ‘n hanskalfie, genaamd Frikkie, wie soos ‘n troeteldier vir die kinders was, weg was. Racheltjie en haar sesjarige boetie het saam met ‘n groep ander mense na Frikkie begin soek, maar later weggedwaal van die soekgeselskap en verdwaal. Hulle het probeer om hulle pad terug te kry, maar dit het al kouer geword en later begin sneeu. Toe haar boetie begin kla dat hy koud kry het die twaalfjarige Racheltjietjie besef dat hul kanse om die koue nag te oorleef, skraal was. Noodgedwonge maak sy toe ’n plan om haar boetie te red.

Racheltjie het met ‘n skerp klip ‘n gat in ‘n miershoop begin grawe, haar klere uitgetrek, dit vir haar boetie aangetrek, en hom in die miershoop gesit. Daarna het Racheltjie voor die gat gaan lê sodat haar liggaam die koue buite kon hou.

Die volwassenes het heel aand na die kinders gesoek maar hulle eers die volgende oggend gekry. Racheltjie se spierwit liggaampie met slegs haar skoene aan was voor die miershoop gevind – sy het verkluim. Haar boetie het te danke aan haar opoffering  die koue nag oorleef. Racheltjie sal vir altyd onthou word vir haar dapperheid en haar onvoorwaardelike liefde vir haar boetie.